Temba Logo

ZIMBABWE LODGES EN HOTELLE

ZIMBABWE LAND VAN KONTRAS EN ASEMROWENDE MOOIHIED.

 

STUUR EPOS
TUISBLAD
ENGLISH

KLIK OP DIE PLEK WAT JY WIL BESOEK EN SIEN WATTER AKKOMMODASIE BESKIKBAAR IS.

 
Zimbabwe Lodges and Hotels Map Lodges en Hotelle van Hwange Victoria Falls Lodges, Hotels, self-catering accommodation and adventure packages Matopo Hills and it's lodges and hotels Bulawayo Hotelle Zimbabwe South Africa Accommodation Botswana Hotelle en Lodges Namibie Hotelle en Lodges Mlibizi Lodge Matusadona National Park Kariba Hotelle Kulizwe Lodge Binga Harare Hotelle in Zimbabwe Nyanga Hotelle Oostelike hooglande Vumba Berge hotelle Great Zimbabwe Lodges en hotelle Chinhoyi Caves Pandamatenga Border Post Kazungula Boirder Post Victoria Falls Border Post Plumtree Border Post Beitbridge Border Post Mutare Border Post Kariba Border Post Chirundu Border Post Manapools Lodges

DISTANCES IN ZIMBABWE IN KM

Distance table

ZIMBABWE

In Stewart se boek Quotable Africa sal jy die volgende oor Zimbabwe lees: “Bring ‘n emmer chibuku na jou lippe en drink ‘n heildronk dat jy so gelukkig is om hier te kan wees.”

As jy eers in Zimbabwe gaan kuier het, sal jy weet hoekom daardie woorde geskryf is: pragtige natuurtonele, ‘n klimaat wat wissel van sub-tropiese paradys tot vars berglug, wild in oorvloed, ‘n sterk teenwoordigheid van die geheime van die verlede, en van die vriendelikste plaaslike inwoners wat jy in menige land sal aantref.

In teenstelling met wat ‘n mens dikwels in die media sal lees, is Zimbabwe een van die veiligste lande op die planeet. Sedert die ekonomiese herstelprogram in 2008 begin het, is kos en brandstof geredelik beskikbaar. Pak dus jou tasse en begin jou lysie van plekke wat jy in Zimbabwe wil sien, opstel.

As jy vanaf Suid-Afrika deur die Beitbrug-grenspos reis, is die eerste plek wat jy moontlik sal wil besoek, die Matobos (ook bekend as die Matobo-Heuwels of Matopos). Cecil John Rhodes, wat een van die bekendste figure uit die era van Britse Imperialisme in Suidelike-Afrika was, het gevra om in die Matobos ter ruste gelê word, want hierdie plek was vir hom die rustigste en vredigste op aarde.

Alhoewel die Matobo Nasionale Park die tuiste van swartrenoster en sabelbokke is, is dit die natuurskoon wat jou sal bybly – lank nadat jy reeds tuis is. Een van die eienskappe van die Matobo-Heuwels is die yslike verweerde granietrotse. Hierdie rotse is ruweg opmekaar gestapel – byna asof ‘n reus-kind se speletjie van blokkiesbou onderbreek is. Een of twee nagte in die Matobo-Heuwels sal die hoogtepunt van jou vakansie wees.

As jy ‘n kleinerige begroting het, is die staatsbeheerde Matobo Rest Camp ‘n goeie keuse. Hier sal jy basiese selfsorg-verblyf met ‘n pragtige uitsig oor die dam aantref. Granite Ridge (voorheen The Farmhouse genoem), is in ‘n pragtige gedeelte van die Matobo-Heuwels geleë. Granite Ridge verskaf selfsorg-verblyf, asook heerlike tuisgemaakte etes, en is ‘n goeie opsie vir ‘n gesin of die gemiddelde reisiger. Die Matobo Hills Lodge is ‘n wêreldklas oord met ‘n pragtige uitsig en uitstekende diens en cuisine. Dit is die perfekte bestemming vir diegene met ‘n beursie wat diep genoeg is om die fynere dinge in die lewe te kan bekostig.
Bulawayo is die eerste stad wat jy in Zimbabwe sal teëkom en is heeltemal anders as die betonoerwoud wat so tipies van baie Westerse stede is. Baie van die strate het pragtige bome, daar is heelparty parke en ‘n aantal Victoriaanse geboue is bewaar – alles die nalatenskap van Cecil John Rhodes. As jy dit geniet om museums, kunsgalerye en die teater te besoek, behoort Bulawayo op jou reisprogram te verskyn.

Die Cresta Churchill Hotel, met die Tudor-argitektuur wat jou aan ‘n vergange era herinner, is 6 km van die sentrale sakekern van Bulawayo geleë. As jy nie jou eie vervoer het nie, het die hotel ‘n diensbussie. Die Rainbow Hotel is ‘n groter onderneming en is in die SSK geleë. Die Cresta Churchill Hotel en die Rainbow Hotel bied albei al die geriewe wat ‘n mens in ‘n hotel sal verwag, insluitend lugverkoelde kamers, kamerdiens, goeie restaurante, ensovoorts.

Naby Masvingo, oos van Bulawayo, sal jy die Great Zimbabwe Monument  aantref (vroeër as die Zimbabwe Ruïnes bekend). Dit is Zimbabwe se bekendste UNESCO Wêrelderfenisterrein en dateer uit die Laat-Ystertydperk. Hier sal jy in die voetspore van ‘n beskawing wat lank reeds verdwyn het, kan volg: die Koninkryk van Zimbabwe (1100 tot 1450 n.C). Wetenskaplikes kan maar net raai oor die redes vir die verdwyning van hierdie Koninkryk: hongersnood, klimaatsverandering …?

As jy ‘n paar dae in die omgewing van die Great Zimbabwe Monument wil deurbring, het jy ‘n keuse van verblyf. Lodge of the Ancient City is ‘n unieke hotel wat ontwerp is om die Great Zimbabwe Monument na te boots. Dit is net reg vir paartjies of gesinne wat op soek is na iets anders. Dink aan kampvure en sagte mbira-musiek na sonsondergang. Die Great Zimbabwe Hotel is ‘n groter oord en bied verblyf van ‘n meer konvensionele aard aan. Norma Jeane’s Lakeview Resort (voorheen bekend as Inn on Great Zimbabwe) is ‘n kleiner, meer persoonlike oord en bied ‘n groot verskeidenheid van verbly – van volverblyf, tot selfsorg-gesinseenhede, na sakpaskamers en kampeergeriewe.

Die Vumba-berge (ook bekend as die Bvumba-berge) en Nyanga-berge vorm deel van die Oostelike Hooglande van Zimbabwe. As jy nou gedink het dat kunsvlieghengel slegs in die Skotse Hooglande of die Hoëveld van Suid-Afrika tuishoort – dink weer. Vroeg soggens is die Vumba-berge en Nyanga-berge mistig en die lug is skoon en vars. Die streek verskil nogal heelwat van die “gewone” prentjie wat jy van Afrika sien …hier is geen uitgestrekte grasvelde met troppe wild nie. Hier sal jy reuse berge, watervalle en geheimsinnige woude van varings en mos sien.

In die Bvumba- (of Vumba-) berge en die Nyanga-berge is daar talle plekke waar al bewyse van eeu-oue vorige inwoners aangetref is. Die Bvumba-berge maak steeds deel van die kulturele en religieuse lewe van moderne Zimbabwiërs uit, want dit word tot vandag toe vir genesing, reënmakery en voorspellingsrituele gebruik.

In die Bvumba-berge is Leopard Rock Hotel bekend onder die wêreld se stralejakkers. Dit bied ouwêreldse sjarme wat jou aan die koloniale tydperk herinner (die Britse koningsgesin is van mening dat hierdie die mooiste plek in Afrika is). Leopard Rock bly steeds een van die gunstelinge onder toeriste. Inn on the Vumba is kleiner en ‘n meer onlangse hotel, waar jy waarde-vir-geld-verblyf en rus en vrede sal kry.
Troutbeck Inn, Pine Tree Inn en Inn on the Rupurara in die Nyanga-berge laat ‘n mens dink aan die eksklusiewe klubs in die Skotse Hooglande. ‘n Reuse kaggelvuur, ‘n heerlike whiskey of mengeldrankie …wat kan dan beter wees? Inn on the Rupurara het al ‘n hele aantal toerisme-toekennings in Zimbabwe verower. Pine Tree Inn laat ‘n mens aan ‘n oord in die Alpe dink, terwyl Troutbeck Inn met ‘n dam met drie forelspesies kan spog.

Aan die weste van die land is Hwange Nasionale Park (voorheen as Wankie bekend). Die natuurskoon in hierdie gebied staan in direkte kontras met die van die Bvumba-berge en Nyanga-berge. Hwange Nasionale Park is Zimbabwe se grootste wildreservaat en het talle mensgemaakte drinkgate (dit is ‘n droë gebied). Met sonsopkoms kan jy sien hoe diere na die drinkgate drentel vir water, terwyl jy kan luister hoe die ruigtes van Afrika wakker word. Die geur van vars koffie en die doudruppels op die gras en struike sal vir altyd by jou bly.

Hwange Nasionale Park het drie ruskampe: die hoofkamp, Sinamatella-kamp en Robins-kamp. Benewens hierdie drie kampe, kan jy ook kampeer op platforms wat op die mensgemaakte drinkgate uitkyk. Buite Hwange Nasionale Park, sal jy ook Hwange Main Camp aantref. Hwange Main Camp bied ‘n keuse tussen selfsorg-lodges, -chalets en –kothuise, asook kampeerplek en staanplek vir karavane.

Die Victoria-watervalle is aan die noordwestelike kant van Hwange Nasionale Park. In die plaaslike taal word dit “Mosi-oa-Tunya” (die rook wat donder) genoem. Die watermassa wat skuimend oor die kranse stort met ‘n mis wat kilometers ver gesien kan word, slaan eenvoudig ‘n mens se asem weg. Die Victoria-watervalle is bykans 2 km breed, en tussen 90-100 m diep. As jy werklik dapper is (of regtig onnosel, afhangend van jou mening), gaan swem in die Devil’s Pool. Hierna sal niks ooit weer dieselfde wees nie. As dit nie genoeg is om jou adrenalien aan die pomp te kry nie, probeer “river rafting”, reksprong (“bungee jumping”), vlieg in ‘n mikrotuig of sweeftuig oor die watervalle …daar is geen einde aan die moontlikhede nie.

Victoria Falls het heelparty blyplekke. Heel voor in die tou is die koningin – die Victoria Falls Hotel. Hierdie hotel bederf hul gaste alreeds vir meer as ‘n eeu met uitstekende diens en is ‘n lid van die “Leading Hotels of the World”-groep. ‘n Mens hoef niks meer te sê nie. A’Zambezi Lodge is 5 km vanaf die watervalle en is op die oewer van die Zambezi-rivier geleë. Elephant Hills Resort is op ‘n heuwel gebou wat oor die Zambezi-rivier en die mis wat deur die valle veroorsaak word, uitkyk. Dit is ‘n groter hotel, met 4 restaurante en ‘n gholfbaan wat deur die Suid-Afrikaanse gholflegende, Gary Player, ontwerp is. Kingdom Hotel is om ‘n mensgemaakte meer gebou, waarin daar ‘n hele aantal babakrokodille is. Ilala Lodge bied bekostigbare, maar stylvolle en gesellige verblyf aan en is die naaste aan die middedorp en watervalle. Vic Falls Rest Camp is die ideale plek vir ‘n gesin of groep vriende wat ‘n onvergeetlike vakansie by een van die mees spesiale plekke ter wêreld wil geniet. Die verblyf is skoon, netjies en naby aan die dorpie en valle.

Die Kariba-meer (of Kariba Dam Zimbabwe) is die grootste mensgemaakte meer op aarde, en hierdie Afrika-Riviera is die speelgrond van die wêreld se rykes en beroemdes. Die vuurrooi sonsondergange en die onvergeetlike roep van die visarend vang die gees van Afrika vas. Hier, by die Kariba-meer en Matusadona Nasionale Park, kan jy wildbesigtiging met watersport kombineer, en nog genoeg rus ook.

Zimbabwe het talle legendes, en die Kariba-meer is geen uitsondering nie. Volgens die plaaslike Tsonga-stam, het die bou van die dam die Nyaminyami (die riviergod van die Zambezi-rivier waarin die dam gebou is) tot so ‘n mate ontstel dat 86 werkers gedurende geweldige oorstromings wat op die konstruksie van die dam gevolg het, gesterf het. Sedertdien word aardskuddings in die gebied gehoor. Wetenskaplikes reken dat dit dalk deur die reuse hoeveelheid water wat in die dam is, veroorsaak word. Die Tsongas sê egter dat dit Nyaminyami is wat die volgende “wraakaanval” beplan.      

Om die Kariba-meer is daar ‘n aantal hotelle en lodges wat almal oor die Meer uitkyk. Caribbea Hotel and Resort lyk nes ‘n vissersdorpie in Sardinië en is die ideale plek vir ‘n gesinsvakansie met hope restaurante en ontspanningsgeriewe. Cutty Sark Hotel is kleiner, huisliker en meer bekostigbaar. Tamarind Lodge verskaf skoon, basiese selfsorg-verblyf – ideaal vir diegene wat hul eie vakansieprogram wil bepaal.

Spurwing Island is ‘n luukse lodge, op die oewers van die dam en vang die gees van die Kariba-meer vas. Hierdie oord is gewild onder hengelaars en die chefs by Spurwing Island is kundiges wat watertandgeregte uit enige vangs kan optower. Fothergill Island is gesluit tot verdere kennisgewing. Nog ‘n lodge op die oewer van die Kariba-meer is Mlibizi Lodge. Hier is jy ook baie naby aan die meer – die grasdakrondawels wat in die tuine van die lodge geleë is, is slegs ‘n paar meter van die waterkant af. Daar is een selfsorg villa by Mlibizi Lodge, wat tot 15 gaste kan huisves. Gaste wat in die ander lodges tuisgaan, geniet hul etes in die restaurant.

Harare is die hoofstad van Zimbabwe. Heel moontlik sal jy net oorslaap in Harare, maar as jy ‘n dag daar wil deurbring, besoek gerus die Nasionale Botaniese Tuine. Nes Bulawayo, is Harare ook nie ‘n betonoerwoud nie, en die stad se mense is met reg trots op die Mukuvisi Woodlands waar 227 hektaar inheemse bome bewaar word.

Cresta Lodge is 3 km van Harare se SSK en is ‘n kleiner, meer persoonlike hotel – ideaal vir gesinne. Jameson Hotel is sentraal geleë en die argitektuur van die gebou laat ‘n mens nogal aan die Art Nouveau-tydperk dink. Rainbow Towers is ‘n luukse 5-ster hotel wat alreeds ‘n hele aantal toekennings gewen het. Jy sal die redes hiervoor sien as jy daar aankom.  

As jy van Harare na die Kariba-meer reis, moet jy nie die Chinhoyi-grotte misloop nie. Dit is nog een van Zimbabwe se besienswaardighede met ‘n ryk geskiedenis en is boonop ‘n pragtige plek. Die “Sleeping Pool” is amper onwerklik mooi en dit is moeilik om te glo dat hierdie grotte die plek van bloedige veldslae was.