|
|||||||||||
|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Die Maleme-Ruskamp in Matobo-Heuwels is in die middelpunt van die Matobo Nasionale Park in Zimbabwe geleë, 20 km vanaf die hoof-ingang van die Park. Die ruskamp is tussen reuse granietrotse geleë en kyk uit oor die Maleme Dam. Daar is dieselfde vredevolle en rustige atmosfeer in die Maleme-Ruskamp as in die res van die Matobo Nasionale Park. Dit is die regte plek vir mense wat wil ontspan en die natuur wil geniet. In die Maleme-Ruskamp van die Matobo Nasionale Park word gaste in lodges of chalets gehuisves. Daar is ook karavaanstaanplekke en kampeerplekke vir diegene wat selfs nader aan die natuur wil wees. Maleme-Ruskamp het ‘n klein kiosk waar ‘n mens die basiese noodsaaklikhede kan koop, en ook ‘n klein aandenkingswinkeltjie. Die grasdak-lodges is almal en suite, en het een of twee slaapkamers (elk met twee enkelbeddens). Elke lodge in die Maleme-Ruskamp het ook ‘n sitkamer en ten volle toegeruste kombuis (met yskas, stoof, kooktoebehore, eetgerei en breekgoed). Daar is drie eksklusiewe lodges in die Maleme-Ruskamp van die Matobo Nasionale Park. Die Visarend-Lodge en Swartarend-Lodge het elk twee slaapkamers en kan vyf gaste huisves. Die Imbila-Lodge het twee en suite slaapkamers, elk met ‘n dubbelbed. Die chalets in die Maleme-Ruskamp het een of twee slaapkamers (elke slaapkamers met twee enkelbeddens), met yskas, tweeplaat-stoof en opwasbak. Jy kan ook die hout- of houskoolbraai gebruik. Geen eetgerei of breekgoed word in die chalets verskaf nie. Die chalets in die Maleme-Ruskamp is nie en suite nie, en gaste gebruik die skoon gemeenskaplike bad- en stortgeriewe. Tente en kampeertoerusting kan by die Maleme-Ruskamp gehuur word. Gaste kan die hout- of houtskoolbraai en die skoon gemeenskaplike bad- en stortgeriewe gebruik. As jy in die Maleme-Ruskamp tuisgaan, moet jy beslis onthou om die drinkwater te kook. Die graf van Cecil John Rhodes is op die kruin van Malindindzimu (‘die heuwel van goeie geeste’) in die Matobo Nasionale Park, baie naby aan die parkeerterrein. Rhodes het hierdie plek “Venster op die wêreld” genoem. Die oorvloed rotstekeninge in die Matobo Nasionale Park is die bewys van die teenwoordigheid van San-inwoners baie lank gelede. Besoek die Nswatugi-grotte om pragtige voorbeelde hiervan te sien. Die museum by die Pomongwe-grotte in die Matobo Nasionale Park is ‘n wonderlike bron van inligting. Die diere bly egter steeds die groot trekpleister. Die Whovi-Wildgebied in die Matobo Nasionale Park is die tuiste van talle voëlspesies en meer as 60 soogdierspesies. Zebra, kameelperde, boksoorte, luiperd, jagluiperd, hiëna, wit- en swartrenosters kom in groot getalle voor. Die Maleme-Ruskamp bied begeleide staptogte in die Matobo Nasionale Park aan, terwyl jy ook die ponieroetes in die Whovi-Wildgebied en om die Maleme Dam kan geniet. Besoekers kan in die meeste van die damme in die Matobo Nasionale Park hengel, en diegene met bote (met elektriese motors of roeispane) word op party van die damme toegelaat.
|
|||||||||||