KUNENE RIVER LODGE

Bird watchers and adventure Paradise in the North of Namibia

TUISBLAD

ENGLISH

STUUR EPOS

TEL +27 (0) 21 855 0395


Namibië se noordelike grens word deur die Kunene-rivier gevorm en dit is hier waar jy die Kunene River Lodge sal aantref. Hulle bied ‘n wye reeks verblyfkeuses, van luuks, tot eenvoudig (maar skoon en netjies) tot kampeerplekke wat jou weer naby aan die natuur sal laat voel. By die Kunene River Lodge sal jy tuis voel en die atmosfeer van die ruwe Namibiese ruigtes beleef. Die Kunene River Lodge is naby besienswaardighede soos die Epupa-valle en Ruacana en die ideale plek vanwaar ‘n mens die Kaokolandstreek van Namibië kan verken.

Die agt ruim “deluxe” kamers is en suite, met lugversorging en toegerus met waaier, ingeboude kaste, stoorruimte en 24-uur wasgoeddiens. Elke kamer het ‘n stoep met gerieflike bamboesmeubels. Die chalets gee ‘n goeie kykie van hoe die pioniers van vervloë dae geleef het. Dit beteken egter nie dat besoekers sonder moderne geriewe oor die weg moet kom nie! Elkeen van die vier chalets is en suite en toegerus met waaier, ingeboude kas, stoorruimte, 24-uur wasgoeddiens en buitesitplek. Die kragopwekker by die Kunene River Lodge loop vir beperkte tydperke, en dus word flitse voorsien aan die gaste wat in die deluxe kamers en chalets tuisgaan. Die Kunene River Lodge verskaf ook twaalf skaduryke kampeerplekke onder reuse bome. Elke kampeerplek het ‘n braaiplek en daar is skoon ablusieblokke en beperkte kragpunte.

Die terrein om die Kunene River Lodge het ‘n hele aantal reuse bome en dus kan jy seker wees daarvan dat jy ‘n groot verskeidenheid Namibiese voëlspesies gaan raakloop – selfs in die tuine van die Lodge. As jy nog meer spesies wil sien, gaan op ‘n bootrit op die Kunene-rivier. Die Restaurant verskaf uitstekende maaltye en die kroeg (wat oor die Kunene-rivier uitkyk) bedien ‘n indrukwekkende reeks drankies.

By Kunene River Lodge kan jy so aktief of lui wees as wat jy wil. Vir die aktiewe mense is daar voetslaan, “white-water rafting”, kayak-roei, en vir die meer rustige siele is daar hengel, kultuuruitstappies na ‘n plaaslike dorpie of net rondlê om die swembad. Om ‘n volmaakte dag af te sluit, geniet ‘n bootrit terwyl die son sak in hierdie pragtige streek van noord-Namibië.

Die Kunene River Lodge verskaf ‘n baie hoë standaard verblyf en ander fasiliteite vir hul gaste. Die ontvangsarea, kroeg, restaurant, perseel en aktiwiteite is vir almal toeganklik, maar om aan die diverse vereistes van reisigers in hierdie afgeleë gebied te voldoen, voorsien hulle drie vlakke oornagverblyf: 
• Lugversorgde luukse rondawels 
• Eenvoudiger, maar skoon en netjiese A-raam chalets 
• Kampeerplekke

Afgesiens van die uitstekende verblyf, bied Kunene River Lodge ‘n buitengewone reeks buitemuurse aktiwiteite (land en water) om vir almal wat avontuurlustig is, tevrede te stel.

Die White-Water Expedition Centre, wat alreeds in 1997 gestig is, het alreeds ‘n benydenswaardige reputasie as een van Namibië voorste rivieravontuuroperateurs opgebou.

Quad Bike Adventures bied ‘n unieke geleenteheid om die noordwestelike streek van Namibië te verken: die ware Kaokoland waar horlosies so onbelangrik is, dat dit eintlik voel asof die tyd stilstaan. Jy sal na afgeleë en amper ontoeganklike plekke geneem word waar jy die natuur op haar mees ongeskonde kan beleef. Die invloed van die moderne mens is nêrens te sien nie, en hier kan jy sien hoe die natuur self ontwikkel en hierdie pragtige landskap voortdurend hervorm word.

Jy sal genoeg tyd hê om die flora en fauna te ontdek, asook die kultuur van die Himba-stam. Die gidse het deeglike ondervinding van die terrein en toestande, is goed opgelei in eerstehulp en weet hoe om die onvoorsiene te hanteer.

Kulturele besoek aan ‘n plaaslike Himba-dorpie 
Kaokoland is die tuiste van ‘n bevolking van ongeveer 12,000 Himba’s – veeboere wat met hul bokke en beeste van een watergat na die ander reis, na gelang van die seisoene en weerstoestande.

Die onlangse vestiging van ‘n Bewaar area in die gebied gaan die plaaslike inwoners tot voordeel wees. Een van die langtermyn doelwitte hiervan is om die wildlewe, wat bykans uitgeroei is gedurende die grensoorlog tussen Angola en Suid-Afrika in die 1980’s, weer te vestig.

Wanneer gaste bydra tot die nuwe toerismebelasting, help hulle die plaaslike bevolking om hul ambisies te verwesenlik, en om hul uniekheid en lewenstyl vir die toekoms te bewaar.

Juwele, versierings en lyfkuns is alles belangrike elemente in die Himba-kultuur. Die vroue bestee die meeste van hul tyd op skoonheidsorg, wat ‘n unieke vollyf velbehandeling insluit wat aan hul vel ‘n kenmerkende intense, gloeiende rooibruin kleur gee.

Die Himba-stam is trots, maar vriendelik. Met hul toestemming kan ons ‘n plaaslike dorpie (kraal) besoek om ‘n unieke belewenis van hulle geskiedenis, kultuur, tradisies en gewoontes te hê. Dit is een van die min volke wat feitlik nog onaangeraak deur die 21ste eeu voortbestaan.