LODGES IN KAOKOLAND (DAMARALAND) EN DIE KUNENE-DISTRIK, NAMIBIë

Kliek eenvoudig op die foto om nog inligting oor die spesifieke lodge in Damaraland te kry of om ‘n bespreking te maak.


PALMWAG LODGE - Tydelik Gesluit - Wuiwende palms, skouselagtige natuurtonele, woestyn-olifante en swartrenosters – dit is Palmwag Lodge. Hierdie 40-bed-lodge het ‘n ten volle gelisensieërde restaurant, swembad onder palmbome en ‘n baie knus swembadkroegie. Dit is ‘n uitstekende keuse in Kaokoland of Damaraland. TYDELIK GESLUIT


Twyfelfontein Country Lodge - Dit is ‘n wêreldklas-lodge naby aan ‘n wêrelderfenisterrein. Twyfelfontein Country Lodge is naby die versteende woud en nie te ver van die Twyfelfontein rotstekeninge en -graveerwerk nie.


Ugab Terrace Lodge Hierdie Lodge bied asemrowende uitsigte en eersteklas luuksheid by die Vingerklip rotsformasie, omtrent 20 km oos van Khorixas. Ugab Terrace Lodge is ‘n ekslusiewe lodge wat luukse en tent-akkommodasie verskaf.


VINGERKLIP LODGE Die Vingerklip Lodge is by die Vingerklip. Hierdie bekende baken is op ‘n plaas in privaat besit en die Vingerklip Lodge is op dieselfde eiendom.


KHORIXAS RUSKAMP - Skoon en bekostigbare selfsorg-akkommodasie naby Khorixas. Khorixas Rest Camp is net 5 km oos van die dorpie.

KAOKOLAND OF DAMARALAND

Kaokoland en Damaraland staan nou as die Kunene-streek bekend. Hierdie wonderlike semi-woestyngebied is ‘n unieke landskap van rooi rots, kronkelende droë rivierlope en knoetsige mopanie-bome. Dit strek vanaf die gruisvlaktes van die Namibwoestyn tot by die Kunene-rivier, wat die grens tussen Namibië en Angola vorm. Ondanks die lae reënval, is hierdie fassinerende gebied bekend vir die baie wild. Om ‘n woestynolifant of ‘n renoster te sien kan heel moontlik die hoogtepunt van jou reis deur hierdie gebied wees. Sebras, koedoe, kameelperde, jakkals en talle klein boksoorte kan gesien word – selfs nou en dan ‘n leeu of twee. Die skaam bruin hiëna kom ook in hierdie gebied voor.

Daar is ook ‘n hele aantal unieke erfenisterreine en natuurlike verskynsels wat die moeite werd is om te besoek terwyl jy in die Kunene-streek is. Moet dus nie haastig wees nie. Van die talle aantreklikhede wes van Khorixas is die Versteende Woud (“Petrified Forest”) en Twyfelfontein met ‘n versameling van meer as 2400 rotsgraverings. Die Brandberg, met sy swart, asserige voorkoms en die Orrelpype (‘n reeks hoekige pilare doloriet in ‘n droë rivierloop) is ook naby. Die Brandberg is in die suide en in die laatmiddagson kan ‘n mens dit rooi op die horison sien gloei.

Die Versteende Woud, nie te ver van Khorixas af nie, verskaf ‘n fassinerende kykie op die verlede. Dit is amper onmoontlik om te dink dat hierdie reuse versteende bome eens op hierdie dorre plek gestaan het. Die 80 km lange Ugab Terrasse en die Vingerklip, ‘n pilaar van saamgestelde rots, 35 m hoog, is ook in  hierdie gebied.

Die paaie is hoofsaaklik van grond/gruis en in ‘n goeie toestand. Weens die aard van die gruis in hierdie gebied, is daar baie los rotssplinters met skerp kante. Dit beteken dat ‘n motorband sommer gou kan pap word – onthou dus om liewers ‘n ekstra noodwiel in te pak.

Damaraland lê wes van Etosha, terwyl die Kaokoland aan die noordweste is. Dele van die Kaokoland kan slegs met ‘n viertrekvoertuig (4 x 4) bereik word. Dis ‘n baie afgeleë, tog interessante gebied. Wees op die uitkyk vir woestynolifante en swartrenosters.  

In die suidelike dele van Damaraland sal jy dalk van die bok- en damara-skaapboere teëkom wat in hierdie strawwe klimaatstoestande ‘n bestaan probeer voer. Mens en dier het geleer om onder toestande te oorleef wat die meeste mense sal laat spaander. In die noorde kan jy die unieke kultuur van een van die afgesonderde stamme, die Himbas, ondervind. Hierdie interessante mense het aangepas om met dit wat die natuur bied, te kan klaarkom. Hulle het verskeie unieke maniere om die strawwe klimaat en die gebrek aan water te kan hanteer.

Khorixas is die belangrikste dorp in hierdie deel. Dit is sentraal geleë en is hoofsaaklik ‘n boerderygemeenskap. Sesfontein en Ruacana lê in ‘n noordelike rigting. Die twee dorpe het albei ‘n interessante geskiedenies – uit die koloniale tyd, maar ook oorblyfsels van die meer onlangse “bosoorlog” wat vir baie jare op die grens van Namibië gevoer is.

Indien jy sou besluit om nog verder noord te reis, is dit die moeite werd om die Ruacana-waterskema en die Epupa-watervalle te besoek, wat albei op die Kunene-rivier is.

Die voëllewe in hierdie gebied is baie interessant, omdat daar talle spesies is wat endemies aan hierdie semi-woestyngebied is, byvoorbeeld die kaalwangkatlagter (Turdoides gymnogenys)en die Hererospekvreter (Namibornis herero).